Hello world!
February 28, 2019

(geskryf deur Estean Herman)

Hoe kan ek só ’n formidabele mens in ’n enkele skryfstuk beskryf?

Ons vriendskap het in die jaar 2013 begin. Al is dit nie lank terug nie, voel dit al soos ’n leeftyd. Ek het in graad 6 as nuweling by Laerskool Swartland op Malmesbury in die Wes-Kaap ingekom. Tot my verbasing het Aldo en nog ’n paar van sy vriende my met ope arms ontvang. Hy het my dadelik laat welkom voel en van daardie dag af was ons soos vinkel en koljander. Ons het al baie hoogtepunte en laagtepunte gehad, al bitter baie vasgesit en meningsverskille gehad, maar dis ’n druppel in die emmer in vergelyking met al die goeie tye.

Aldo is uniek want hy het die vermoë om met een sin jou dag te maak of breek. Hy wil altyd konflik oplos en is op sy gelukkigste as die mense om hom gelukkig is. Al sê ek soms vir hom dat hy te naïef is, sal hy altyd eers die goedheid in ’n persoon probeer raak sien.

Van musiek kan jy vir Aldo niks vertel nie. Sy musieksmaak is uiters uniek. Een oomblik sal ons ’n rustige liedjie luister en die volgende oomblik vang hy jou met ’n blitsige Afrikaanse treffer. Ek moet bieg dat ek sy musieksmaak baie geniet.

Aldo is ook een van daardie gelukkige mense wat ’n berg kitskos kan opeet en nie ’n enkele kilogram optel nie. Ek staan altyd verstom wanneer ons op ons maandelikse ‘bottomless sushi’ ekspedisies gaan en hy net soveel bordjies soos ek bymekaar maak.

Wat vir my uitstaan van Aldo se fisiese vermoë is sy lyf se onbeskryflike hoeveelheid krag. Ek, wat as stut meer as 140 kg weeg, sal nooit kies om op hom af te hardloop nie. Want soos ons afrigter dikwels sê: “Hy tackle ’n ding dood”.

Vir Aldo het ek baie respek. Al het hy sy ‘flaws’, probeer hy sy bes om homself daagliks te verbeter om die beste weergawe van homself, vir homself te wees. As die woordeboek nie ’n beskrywing vir nederigheid gehad het nie, sou sy naam genoeg wees. Hy sal nooit spog met sy talente, vermoëns of luukshede nie maar verkies liewer om dit met sy medemens te deel.

Ek is elke dag dankbaar dat ek hom ’n vriend kan noem. Dit is vir my ’n eer en ’n voorreg om hom in my lewe te hê want Aldo is #LekkeAnders.